Wijs My Die Plek

written by


« Reload image

Wys my die plek waar ons saam gestaan het,
Eens, toe jy myne was -
Vroeër, voor jou liefde vir my getaan het,
Vroeër, toe jy myne was.
Kyk, dis dieselfde; die silwer see
Blink in die sonskyn, soos lang verlee
Dit eenmaal geblink het, ‘n welkomsgroet
Vir ons liefde wat uithou en alles vergoed.

Wys my die plek waar ons saam gekniel het,
Eens, toe jy myne was -
Vroeër, toe een siel vir ons saam besiel het,
Vroeër, toe jy myne was.
Kyk, dis dieselfde; die hemel, blou,
Lag soos voorheen op my en op jou;
Dit skitter nog altyd ‘n welkomsgroet
Vir ons liefde wat uithou en alles vergoed.

Wys my die plek waar ons saam geloop het,
Eens, toe jy myne was -
Vroeër, toe ons harte so veel gehoop het,
Vroeër, toe jy myne was.
Kyk, dis dieselfde!
Net jy nie.
Vra, wie van ons twee moet die meeste dra?
Jy wat vergeet het - of ek wat boet
Vir my liefde wat uithou en alles vergoed

© Christian Frederik Louis Leipoldt